.
SWERFKIND - Die Straatkindbundel is 'n samestelling van 100 Suid-Afrikaanse skrywers en musikante se 100 treffende gedigte en lirieke wat die lewe van 'n straatkind getrou uitbeeld.
Ou meesters en bekroonde skrywers en ook nuwe stemme en klanke van kreatiewe digters en musikante kan gelees en gehoor word - saam die bundel is die Swerfkind Klankbaan vrygestel op 'n USB stokkie. Die straatkindbundel poog om die publiek bewus te maak van die lewe en lot van kinders wat op straat bly. Gedigte en lirieke gee uitdrukkig aan hulle seer gemoed en spreek spesifieke aspekte aan van die kinders se kil leefwêreld intens aan - sonder oordrywing. Die werkliheid vir straatkinders word deur klanke en beelde sielvol verwoord in Swerfkind.
Moet nie harmoniese akkoorde en rymende woorde in elke eerlike vers verwag nie, daar is immers niks wat rym omtrent 'n straatkind se lewe nie. Poësie in die straatkindbundel kan selfs gedefinieer word as onfatsoenlik - en dis heeltemal aanvaarbaar want daar is immers niks wat rym omtrent 'n straatkind se komplekse bestaan nie. Nogtans word gehalte skryfwerk gewaarborg. Dis poësie en goeie prosa wat reguit praat met hart en gees en sommer met 'n mens se gewete ook.
Die tekenkuns in die straatkindbundel is die van 'n tienjarige dogtertjie, Joeline van Zyl. Die eenvoudige tekeninge van 'n kind wat in 'n liefdevolle huis grootword is in skrille kontras met wat 'n straatkind beleef - maar die prentjies van huisies, blommetjies, diere en sonskyn is wat die kind juis moet beleef: 'n huis, troeteldiere, die mooi van die natuur - en baie liefde. Straatkinders is kinders.
Die Swerfkindbundel bring nuwe perspektief rondom die bestaan van die straatkind - en het tendoel om mens met ander oë na straatkinders te laat kyk, emosie te ontlont en betrokkenheid te lok en so uiteindelik 'n verskil te wil maak aan die lewe en toekoms van die swerfkinders. Geen kind hoort op straat nie.
.
KOEKOES is ‘n stunning projek met 'n baie beautiful doel. Die gedigtebundel poog om met toeganklike poësie die masker op geestesiektes te lig. Insig tot gedragspatrone van geestessiektes en bewusmaking van simptome wat tipies is van psigiatriese kwellinge word eg beskryf en so word hulpsoek aangemoedig wat vinnige diagnose en behandeling moontlik maak. Die bundel bring hoop vir die met psigiese kwellings en hul geliefdes.
Die Afrikaanse poësie bundel KOEKOES is ‘n Zen-geillustreerde gedigte boek met eerlike uitbeeldings deur brawe digters wat sonder skroom skryf oor die pynlike werklikheid van geestesafwykings, gemoedswisselinge en persoonlikheidsversteuring, depressie, eetsteurnis, asook selfdood. Die bundel poog om dieper te delf en die emotionele toestande te ontbloot waarmee daar geworstel word.
50 Digters se skryfkleinodes is grafies gerangskik in alfabetiese naamorde en Zen-versier met doodle- inkleurprente. Elke skrywer se gedigte word deur komplekse, dog unieke pen- en ink-tekening, getooi. Daar is ‘n roesemoes mandalasirkels, abstrakte ontwerpe en baie verbeeldingryke vorms, paisley-vector-illustrasies, florale en art-deco-styl-tekeninge, sowel as Kolam en Rangoli ontwerpe. Hierdie inkleurprente is beskikbaar op die publieke domein – gratis – die webtuistes is gelys agter in die bundel.
Kuns word soms in psigoterapie aangewend om sielkundige probleme met kreatiewe aktiwiteite te behandel. ‘n Warboel krabbelkuns en doodle animasies kan metafories wees vir besige denke, of ‘n deurmekaar gemoed en gedetaileerde geometriese en simmetriese patrone met herhaalde lyne kan ook regiede gedrag en herhaalde rituele uitbeeld. Nogtans is hierdie kunsvorme pragtig in geheel en vloei bisaar saam tot harmoniese eenheid - en dit is wat mense moet raak sien, die hele prentjie - die hele mens.